Gepide

Gepidia, kortstondige maksimum omvang van die Gepidiese gebied, 539-551

Die Gepide (ook die Latynse vorm Gepidae word gebruik) was 'n Oos-Germaanse volk wat verwant was aan die Gote. In die 3de eeu val hulle saam met die Gote die Romeinse provinsie Dacia binne, en neem besit van die noordwestelike deel daarvan.

Die naam 'Gepide' kan afgelei wees van "Gepanta"; 'n Gotiese woord vir 'lui' of 'traag', aangesien die Gote nie 'n hoë dunk van die Gepide se paraatheid gehad het nie. Die twee stamme het dan oook vyande van mekaar gebly. Die Gepide het oorspronklik in Skandinawië gewoon, waarna hulle hulle aan die Weichsel in die teenswoordige Pole gevestig het. Vandaar het hulle in omstreeks 350 na die suide getrek en 'n groot deel van die Hongaarse vlakte (Pannonië) beset.

In 376 is die Gepide onderwerp deur die Hunne, en moes hulle hulptroepe lewer aan die leër van die Hunne, wat bestaan het uit krygers uit verskeie stamme, maar veral Germaanse stamme wat gretig was vir oorlogsbuit en op die agterhoede van die Hunne gevolg het. Onder hulle is die Gepide hoog aangeslaan deur Attila die Hun. Hulle het die regtervleuel van sy leër gevorm in 451 tydens die Slag van die Katalauniese Velde (naby Troyes in Frankryk), gelei deur hul koning Ardarik. Ná Attila se dood het hulle probeer om Pannonië te beset en 'n staat daar te stig. Dit was 'n kortstondige koninkryk; saam met die Ostrogote, gelei deur koning Ardarik, het hulle die Hunne in 454 tydens die Slag aan die Nadao verslaan.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search